Sim-Biose! Twee kaarte in tablet gee ’n wyer keuse

by admin


  Posted on September 7, 2014



TABLET-rekenaars steek deesdae oral kop uit en die Suid-Afrikaanse homebrew-tabletvervaardiger Future Mobile Technology (FMT) is terug met nog ‘n Android-tablet wat hom in ‘n gaatjie in die snelgroeiende mark wil inwurm. Die tabletmark het in die laaste twee jaar behoorlik ontplof en die keuse is lankal nie meer tussen ‘n peperduur Galaxy Tab en ‘n peperduur iPad nie. Beperk Op beginnersvlak is daar ‘n lekker verskeidenheid tablette in die 7 – 8″ segment.

Dink byvoorbeeld aan Acer se Iconia en die Huaweireeks. Sonder data is jou tablet egter nie veel werd nie – en hier is jou opsies vir diens basies beperk tot twee keuses: Jy kan jou vir twee jaar vas teken met ‘n kontrak by ‘n diensverskaffer; of jy kan ’n tablet kontant koop en sonder data sit. Dus, nie die beste keuses nie . . .

Dis hier waar FMT se nuutste aanbieding, die netsurfer DUAL 8, ‘n derde opsie aanbied. Tracy Andersson, uitvoerende hoof van Future Mobile Technology (FMT), verstaan die Suid-Afrikaanse mark. Dit is hoekom die DUAL 8 plek het vir twee simkaarte. FMT het ook ‘n deal met Telkom beding om een van daardie simkaart-gleuwe te vul met ’n Telkom-sim waarop jy 200 MB data per maand vir die eerste jaar verniet kry. Dit staan jou natuurlik vry om rond te shop vir ander data-deals, maar dis beslis lekker om te weet daar is ‘n sim wat elke maand data gee sonder om dit te koop! Volgens Andersson is die Android 4.2.2-tablet reeds ‘n treffer by Pep Cell, waar dit soos soetkoek verkoop teen R1999.

FMT is bekend vir sy intreevlak-tablette vir die Suid-Afrikaanse mark. Net een waarskuwing: Die Google Play Store is nie vir die model beskikbaar nie.

Daar is egter wel 800 000 apps op die 1Mobile Market beskikbaar, so jy mis Google nie eens nie.